Friday, November 1, 2013

Proetyd - 2de Glasie


 
Na ‘n driegang middagmaal en 2 bottels wyn tussen die vyf toer lede, was die oë maar swaar, die ledemate lui en teen daardie tyd het die sonnetjie lekker gebak en die gat liggies begin stamp. Maar David, die ervare toerleier wat hy was, was seker gewoond daaraan, want oppad na ons volgende proekamer het hy gestop by Chateau Mont Redon, ‘n wynplaas sedert 1344, aan die voet van die koppie en ons toegelaat om die wingerd in te vaar en die dekades oue  geknolde en verwronge wingerd stamme en Châteauneuf-du-Pape se beroemde ronde klippe van nader te beloer.
 

 
 
Volgens David, en menige ander kenners is dit die einste “rivierklippe” wat saamwerk om Châteauneuf-du-Pape se gehalte wyne te maak. Bedags hou dit die grond relatief koel en beskerm dit die druif se wortels teen die hittige somers en snags verhit die verwarmde klippe die grond weer. Geologies gesproke is die rivierklippe daar gedeponeer deur gletsers aan die einde van die laaste ys-tydperk. Maar dis ‘n te ver draai en te lang storie om te gaan haal vir dié bloginskrywing.     

Alhoewel dit na oestyd was was was daar tog nog hier en daar druif aan die tak. Klein, goud geel korreltjies, goed-ryp en stroopsoet. Miskien Roussanne, miskien Grenache blanc, miskien Viognier?
 

Mededeelsaam met die druiwe.

Ons derde proekamer was Domaine de Beaurenard. Die wynplaas het ‘n lang geskiedenis van wynmakery. In 1695 het die Coulon familie die plaas Bois Renard gekoop. Dieselfde familie, 7 geslagte later, boer nog steeds daar. In die indrukwekkende ontvangslokaal is glasbottels met voorbeelde van die 13 druif kultivars wat gebruik kan word om ‘n Côtes du Rhône of 'n Châteauneuf-du-Pape wyn te maak. Na ‘n kort besoek aan die wynkelder onder die ontvangslokaal, was dit proetyd.
 
Ons het drie rooiwyne geproe: Die Beaurenard Châteauneuf-du-Pape en die Boisrenard Châteauneuf-du-Pape vanaf hul 80 akker plaas in die Châteauneuf-du-Pape vallei en hul Côtes du Rhône Villages 2009 vanaf die Rasteau area, in Vaucluse, waar die Coulon familie ook ‘n wynplaas het. Die Rasteau was bietjie swaar vir ‘n vroeg middag proeëry maar oor die algemeen was dit ‘n wyn van gemiddelde gehalte. Dieselfde kan egter nie gesê word van die twee Châteauneuf-du-Pape wyne nie. Albei was top gehalte, de qualité supérieure. veral die Boisrenard was uitstekend. Alhoewel vrugtig, swartbessies en pruime was toonaangewend, het dit komplekse karakter getoon met donker sjokolade en spesery nasmaak. Soos die Engelsman sou sê: This was good stuff.

 

Ons laaste wynlandgoed was ook vir my amper die lekkerste. Clos Saint Michel lê op die oorsponklike bodem van die Rhône Rivier valley, net suid van die dorpie en langs die D17 wat Châteauneuf-du-Pape met Sorgues and Avignon verbind. Die ontvangs en diens van die eienaars was aards, spontaan en ontspanne en hulle het ons werklik tuis laat voel. Met ons aankoms het Monsieur Mousset Sr. ‘n koeltetjie geniet in ‘n lêstoel in die skadu van ‘n boom neffens die opstal. Siesta-tyd! Een van die huidige wynmakers, Olivier Mousset het ook kom inloer in die proekamer, klere rooi gevlek en nat van kelderwerk. Ek het baie van hul wyne gehou. Baie swartvrug met heelwat lyf, sag en rollend in die middel, met ‘n peperige stert wat vir lang oomblikke draal op die palaat. Beesstertpotjiekoswyn.
 
 

 
Ek sou wat wou gee om ‘n paar bottels saam te vat huistoe, veral van Clos Saint Michel en Roger Sabon, maar die hoofdoel van die dag was om te proe. Tegnies was dit ook net nie moontlik vir ons om wyn die heelpad in ons tasse rond te sleep nie. En sienende dat ons nie mag wyn aanstuur na Kentucky toe nie, was dit ‘n ekspedisie vir die sintuie, die natuurlike prag van die vallei en die inname van ‘n stukkie Franse kultuur. 

 


 
Laat middag, na die terug ry na Avignon en ons ons au revoirs  gesê het vir ons mede wynvliee/kultuur-najagters en hulle die beste toegewens het met hul poging om na Aix-en-Provence te reis, het ons stadig terug gestap woonstel toe. Terwyl ons rustig kykinkopies gedoen het al met rue de la Republique langs het die huistoe-gaan skares rondom ons geskarrel. ‘n Man wat vinnig indraf by die boulangerie vir die verpligte vars broodjie vir aandete. Daar een met ‘n bottel wyn onder die arm. ‘n Groepie studente wat lukraaks van winkelventer tot winkelventer beweeg en ooo  and aaa.  Menigde wat net strak voor hul uitstaar, ‘n bestendige pas handhaaf en doelgerig hul pad oopvleg deur die aankomende massas na hul bestemming toe.

 

Ons was vroegaand weer tuis in ons woonstel wat uitgekyk het oor die Eglise St Pierre Kerk en die Pous se Paleis met ons voete op die gemak stoel se armleuning en ons vakansiegees verder ingesonke. Rustig. Later die aand het ek ‘n ligte maaltyd gemaak van groenslaai, donker olyfbrood, en skerp plaaslike kaas wat ons die vorige dag in Gondes gekoop het, en die laaste van ‘n bottel Beaumes-de-Venise gedrink, ‘n present van die woonsteleienaar, en een van die lekkerste wyne wat ek in Frankryk gedrink het.

 Au Revoir! Vive!

  
 

Ruïnes van die oorsponklike kasteel in Châteauneuf-du-Pape wat in 1940 deur die Duitse Magte opgeblaas is.

Thursday, October 31, 2013

Proetyd - 1st Glasie


 
Die oggend was kraakvars. Sonnig, nog koelerig maar vol belofte dat dit 'n pragtige warm dag gaan word. Die wolklose blou hemelruim, amper daardie bekende Provençal blou, wat al deur menige skilders nageboots is, vertoon ietwat van ‘n deinserigheid. Druppels vogtigheid. Nalatings van die morestond se dou.

 
Eglise St. Pierre kerk

Ons het die woonstel vroeërig verlaat en ons pad deur die smal klipstraatjies van Avignon se ou stad gewurm, verby die Eglise St. Pierre kerk met sy pragtige deure en goue altaar, tot ons by die bopunt van die rue de la Republique gekom het waar dié oopgevou en uitgespoel het op die Place de l'Horloge. Die talle opelug restaurante en smouskarretjies het soos eilandjies in ‘n meer op die plaza gelê. Ons het links gedraai, treinstasie se kant toe en met Avignon se hoofstraat vir inkopies afgestap tot by die toerismekantoor in cours Jean Jaurès.
 

  
 
 Eglise St. Pierre kerk

Ons het 'n 9:00 vm afspraak gehad met ons wynkenner, motorbestuurder, kultuuronderwyser en grapjas vir die dag, David, van die Avignon Wine Tour maatskappy. Dié toer maatskappy spits hom toe op klein, meer intieme toergroepies. Daar was net vyf van ons op die toer. ‘n Amerikaanse student op sy brugjaar en wat wou leer van wyn en die proses en Franse kultuur, en ‘n jong egpaar van Pennsylvania, wie se vakansie met die aanlanding in Avignon nie te goed begin het nie. Die treindrywers het alweer begin staak. Wie weet waaroor hierdie keer. Die egpaar was basies gestrand of moes met ‘n bus na hul volgende bestremming, Aix-en-Provence, reis.     

 
 
Daar was geen manier dat ek, 'n grapenut, Provence en die Rhône Rivier vallei sal besoek en nie tyd spandeer in die proekamers van Châteauneuf-du-Pape nie. Hierdie klein dorpie, net noord van Avignon, en sy 3200 hektaar van wingerde, is een van die wynwereld se kleinste en gesogste wynstreke. Côtes-du-Rhônes wyne is van my gunstelinge maar die wyne van Châteauneuf-du-Pape, wat binne die algemene  Côtes-du-Rhônes streek geleë is, was nog altyd buite my bereik. Vins Prestigieux.

Ek is nie ‘n Frankofiel nie. Ek glo ‘n mens moet daarvoor alles Frans inasem en leef. Maar ek hou van hulle kos en hul wyn. Alhoewel ‘n mens die kos en wyne orals ter wereld kan geniet is die ware Jakob mos altyd lekkerder. (In ‘n vorige bloginskrywing het ek oor ‘n denkbeeldige wyntoer en Côtes du Rhône wyne geskryf.) Ons het deurgaans probeer om altyd tradisionele geregte te bestel en natuurlik plaaslike wyne te drink. En op daardie spesifieke Woensdag was dit dan ook nie anders nie.

Die toerplan was kort en kragtig: Twee wynmakers voor en twee na middagete. Ons eerste stilhou plek was by die Brotte familie se Le Musée du Vin en proekamer om te leer oor die wynmaakproses en die geskiedenis van wynmakery in die area. Alhoewel interessant laat die museum se inhoud veel te wense oor veral Suid Afrika, want die wereld se sesde grootste wyn produseerder word glad nie eens gemeld in die museum nie terwyl kleiner produseerders soos Australië, Chili en Argentinië wel verskyn op die groot muurkaart. In die verbygaan het ek dit aan David, nou die geskiedenisonderwyser, genoem, maar al wat ek gekry het was die tipiese Franse antwoord: Oë wat hemelwaarts slaan, mond wat ondertoe getrek word, oop hande wat sywaarts opgelig word, amper asof hy die seën wil uitspreek oor my en ‘n oplig van die skouers. Oui!

Miskien was ek net te sensitief?

 
Brotte wyne.
 Links is ‘n verweerde bottel meerjarige-oesjaar Brotte Pere Anselme “La Fiole du Pape.” David, ons wynkenner, wat vinnng verander het na ‘n wynverkoper, wou my laat glo dat die voggies afkomstig was van 80 jaar oue wingerde, terwyl hy ons deur die proses van kyk, ruik, en proe geneem het. Die wingerde “mag” dalk so oud wees, maar die wyn was maar middelmatig, te plat, geen diepte nie. ‘n Mens kan seker ook nie te veel verwag van ‘n wyn wat nie eintlik bedoel is vir veroudering nie. Regs is Brotte se 2011 witwyn. Ditto! Let’s move on. Ek kon net hoop dit sou beter word soos die dag aangaan. 

 


 
Ons volgende watergat was Domaine Roger Sabon. En dié dag het sommer onmiddelik beter geword. Ons het nie voor die toer geweet watter wynmakers ons sal besoek nie en ek was aangenaam verras toe ons van die hoofstraat afdraai na die Sabon proekamer. Dié wynmaker is bekend vir sy komplekse wyne en die 2009 Prestige and 2009 Reserve wat ons geproe het het nie teleurgestel nie. Beide die wyne was goed gebalanseerd en ‘n goeie mondvol van aktiwiteite op die palaat. Veral die Prestige se sagte tanienne, lae suur inhoud en kompleksiteit van vrugte, peper en leer was indrukwekkend, maar die Reserve was nie te versmaai nie en net ‘n kortkop agter die Prestige.

 


Hoe gou het die oggend nie verby gegaan nie en middagete was op hande.  Middagete was in Le Verger des Papes neffens Châteauneuf-du-Pape se ou vervalle kasteel.  Daar is maar min oor van die kasteel want die terugtrekkende Duitsers wat die toring en kasteel gedurende die Tweede Wereldoorlog as ‘n opservasiepos en ammunisie stoorplek gebruik het, het die plek opgeblaas op Augustus 20, 1944. Net die oostelike muur het behoue gebly. Die restaurant se ligging is idilies, bo op ‘n koppie met pragtige uitsigte oor die omliggende wynplases, Avignon en die Rhône Rivier wat soos ‘n silverslang in die verre deinserigheid gelê het.     

(Word vervolg...)

Heading image: Hotel Château des Fines Roches in Châteauneuf-du-Pape