Sunday, January 21, 2007

My Herontdekking van Afrikaanse musiek

Dat ek my geboorteland moes verlaat het om die musiek van my moedertaal te herontdek is seker nie vreemd nie, maar dat dit plaasgevind het, is verfrissend. Die feit dat ek nie heeltemal verteer en verswelg is deur die “kultuur van die 20ste eeu” sedert my koms na Amerika is ‘n dankbaar seën. Die herontdekking is 'n direkte resultaat van die Internet en die beskikbaarheid van mp3s. En dalk, net dalk, omdat jy my uit Afrika kan neem, beteken nie jy kan Afrika uit my neem nie. En die Afrikaanse taal is van Afrika, was gebore en geknie en gegiet in Afrika, en is steeds aan die verander.

Toe ek die land verlaat het in ’97 was Afrikaanse musiek stagneerend na my mening. Die Voelvry beweging van 1989 met Johannes Kerkorrel en die Gereformeered Blues Band, Koos Kombuis en ander, bestuur deur “Dagga” Dirk Uys, het so veel belofte ingehou as 'n finale wegbreek van Bles Bridges en stroperige, net-liefdesliedjies-is-goed-genoeg-vir-verkope in Afrikaans. Alhoewel hul impak op daardie tyd klein was, dien dit vandag as ‘n beduidende baken vir ander om te volg. (Lees meer omtrent die Voelvry beweging en hul impak.) In die 90’s moes ons tevrede wees met stroperige André Schwartz, tiener afgod Steve Hofmeyr en komediant Leon Schuster. Die enigste lig draers van Afrikaanse Folk and Rock musiek gedurende daardie periode was Anton Goosen, Valiant Swart, Koos Kombuis en Piet Botha. Ons sou 10 of meer jare moes wag voor ons die volgende ontploffing van Afrikaans Rock kon ervaar.

Die enigste groot Afrikaanse musikante in 1997 was Anton Goosen, in die Folk, Pop en Rock genres, die man wat hulle Suid-Afrika se Bob Dylan noem. Alhoewel dit 'n eer is om in dieselfde asem as Dylan genoem te word, is dit ook 'n belediging aan Goosen vir sy reuse bydrae to Afrikaanse musiek. Vir my is Anton Goosen, Anton Goosen. Punt. Sy klank is uniek en hy is 'n baanbreker om nuwe klanke, veral Afrika klanke, in te sluit in standaard Afrikaanse musiek. Sy samewerking met die Kommissie van Ondersoek op die Winde Van Verandering vrystelling is steeds vir my van sy beste werk. Miskien moet ons hom ook die Paul Simon van Suid-Afrika noem. Die tweede groot naam was Amanda Strydom, die Stem. Alhoewel sy sekere tye van laagte punte ervaar het, het sy altyd teruggekom en hoogtes bereik wat sy nooit voorheen bereik het nie. Haar “staying power” moet geadmireer word. Sy is gemaklik in Kabaret, Kontemporer en Rock, en sy gee altyd haarself tenvolle oor aan haar musiek, kewsbaar en toetaal ontblote. Derdens was daar Piet Botha / Jack Hammer, Suid Afrika se eie Blues en klassieke Rock, Afrikaans/Engelse rocker, wat sy musiek geleer het in die hoogs kompenterende skool van Los Angeles Rock groepe. Ten slotte, Coenie de Villiers, wat die unieke vermoë het om die mooiste Afrikaanse lirieke met sensitiewe klavier musiek te kombineer en dit op 'n gesofistikeerde, professioneel manier aan te bied, wat vergelykbaar is met die bestes in die wêreld. In 1986 is baie van Coenie se musiek verban deur staats radio omdat sy lirieke te polities beskou was en hy het vir 2 jaar in Cyprus gewoon and musiek gemaak. Jy is geregtig op jou eie opinie, maar hierdie is my keuses.

My herontdekking het begin aan die einde van 1999 toe ek 'n besoek aan Suid-Afrika gebring het en die vrystelling Vuurklip van Richard van der Westhuizen en Lochner de Kock by Look & Listen in Durbanville opgetel het. Hulle staan ook bekend as Klip. Nadat ek gaan sit het met oorfone op en regtig geluister het na hierdie 1998 vrystelling, het dit spreekwoordelik my voete onder my uitgeslaan, (sienende dat ek alreeds gesit het.) Dit was nuut, snaaks, ontdekkend en refrissend verskillend van die ander Afrikaanse musiek wat ek voorheen gehoor het. Hier was twee ouens op 'n nuwe Afrikaanse planeet.

Die groepe en individue wat sou volg is 'n openbaring tot dusver en ek dink nie ons het al die beste gehoor nie. Dit is asof die nuwe eeu ‘n renaissance ontwaak het. Die musiek is meer divers en verskillend. Ja, daar is steeds ‘n klomp folksy kitaar werk, maar Rock, Punk, Industrieël en selfs swaar Metale musiek kom sterk navore. Ek glo ook die nuwe klomp het net so veel om oor te skryf soos gedurende die Voelvry beweging. Die lewe is nou net so gekompliseerd soos voor die einde van apartheid. In baie opsigte is daar is 'n eendersheid in die situasie. Die Afrikaner en Afrikaans soek 'n identiteit, werkloosheid is swaar op hul gemoedere, misdaad en geweld affekteer almal, die 2de Groot Trek wat veroorsaak het dat amper 1 miljoen mense, meestal blankes, die land verlaat het, 'n massa brein dreineering, en die “euphoria” van 'n nuwe Suid-Afrika sedert 1994 het nooit materiaaliseer nie. Inteendeel, alhoewel daar hoop is vir 'n beter Suid-Afrika en 'n beter bedeling vir Afrikaans, is daar is ook wanhoop in die woorde en musiek van die nuwe Afrikaanse rockers. Luister na Koos Kombuis se Fokkel.

Jan Blohm, Abel Kraamsaal, Alta Joubert, Gian Groen, Akkedis, Battery 9, Thys Nywerheid, Trompie is Dood, Fokofpolisiekar, Brixton Moord en Roof Orkes, Beeskraal, Diff-olie, en verskeie ander het in die eerste paar jaar van die 21ste eeu ‘n hernuwe geloof in Afrikaanse Rock en Afrikaans musiek in die algemeen in my ontwaak. Wie sal oorleef en hoeveel van hulle sal die status van legendes en groot meesters bereik, sal ons moet sien. Dit is nog vroeë dae van die nuwe revolusie. En dit terwyl Anton Goosen, Piet Botha, Amanda Strydom en Coenie de Villiers steeds goed aangaan. Koos Kombuis en Valiant Swart is steeds teenwoordig en hul musiek is steed relatief. Strydom se “Hoor Hoe Brom Die Wind” is een van my gunsteling Afrikaans Rock treffers van alle tye. Dit het al die elemente van 'n klassieke Rock lied. Haar vrystelling “Verspreide Donderbuie/Scattered Thunder” het verskeie hoogs gewaardeerde Suid-Afrikanaanse musiek toekennings gedurende 2003 en 2004 gewen. Ten einde is dit die vermoe om lank op die toneel te bly en/of ‘n skielike diep impak te maak wat sal bepaal oor wie ons 10 jaar van nou af gesels wanneer ons oor Afrikaanse musiek praat.


PS: Merkwaardige webwerf: DNA Strings

No comments: