Tuesday, March 22, 2011

Talmtyd

Na ‘n supermaan-Saterdagaand(*) is ons op die eerste dag van lente geseën met ‘n pragtige sonskyn-Sondag om ‘n bietjie litte los te maak in die tuin, vere reg te skuif vir die beter dae wat voorlê en die beste skemeraand in maande buite op die agterstoep deur te bring.

Aah…Talmtyd!

Terwyl die Chinaman vir my ‘n Venetia skemerdrankie en vir M ‘n glasie Chardonnay getoor met tropiese vrugte op dien, sit ons sommer net so en hard op droom oor alles wat ons graag wil doen in die tuin die somer, wêrldreise voordat ons te oud word, opkomende musiekvertonings in Louisville van Elton John and Steely Dan wat ons graag sal wil gaan kyk, (Steely Dan is ‘n no-brainer, dis ‘n moet-doen) en alles en nog wat.

Aandete was ‘n vinnige, saam gevlansde vleisbraaitjie en slaai. Wie wil nou lang ure in die kombuis deurbring terwyl die weer so lekker saamspeel. ‘n Vuurtjie dans rooiwarm en die rooster word skoon gebrand. Die skemer-son skilder die westelike lugruim geel-oranje-en-rooi soos dit agter die bome verdwyn en gereed maak om nag te sê suid van die horison. ‘n Skaaptjoppie vir elkeen, die laaste van Spekkies se lekker tuisgemaakte bees boerewors, ‘n vinnige oudtydse aartappelslaai, stroopsoet spanspek en ‘n geroosterde knoffelbotter broodjie.


Saam met aandete ‘n glasie Root:1 Cabernet Sauvignon van Chili se Colchague vallei, een van vele goedkoop maar uitstekende wyne van Chili wat deesdae in ons drankwinkels beskikbaar is. Hierdie een is definitief ‘n lekker-drink wyntjie vir min geld, slegs $10-12 per bottel. Een van daardie wyne wat wynliefhebbers by die doos koop. Ideaal vir vleisbraai aande.

Die wyn het een van die mees interessantste en innoverenste etikette wat ek in ‘n lang tyd op ‘n wyn bottel gesien het. Dit vertel die storie van oorsponklike druif wortelstamme wat nog in Chile gevind kan word in teenstelling met verente wortelstamme wat in die res van die wêrld gebruik word weens die Phylloxera plaag wat die wynbedryf lamgelê het in die laat 1800’s en vandag nog steeds verhoed dat Europese wyne, Vitus vinifera, die Cabernets, die Grenaches, die Merlots, die Viogniers, ensovoorts, nie sonder verente wortelstamme geplant kan word nie. (Nota: Selektiewe oorsponklike wortelstamme kan ook nog in Australia gevind word). Daar is sommige wynbemarkingsagente wat ons wil laat glo dat wyn gemaak van oorsponklike worterstamme vrugtiger en beter is as wyn van verente wortelstamme. (But it is nothing more than a matter of taste and palate.)

Aah…Die stadige leef lewensstyl! Maar ongelukkig net soms.

Geen beter manier om die week af te eindig of te begin, afhangende van die siening of Sondag die einde of die begin van jou week is.

(*) Weens die feit dat die maan op Saterdagaand slegs 221,567 myl vanaf die aarde was, het dit glo 14% wyer en 30% skerper vertoon as normaal. Dis is die naaste wat die maan aan die aarde was sedert Maart 1993. As if it's important!

2 comments:

Anonymous said...

Hou baie van die woord: "talmtyd". Dis die lewe en jy beskryf dit so lekker!

Terloops, my ervaring is ook dat Chileense wyne die beste waarde vir geld bied ivm ander wyn-produserende lande. Seker maklik meer as die helfte van die wyn wat ek hier nuttig, is Chileens.

Lekker naweek!

Bib

Unknown said...

Behalwe vir 'n paar uitsonderinge is Chileense wyn vir my soos "Nescafe instant coffee", nie bad nie, drink nou, en maklik drinkbaar.