Thursday, September 1, 2011

‘n Somberheid van Tevredenheid


Die Saterdag toe die verkoper se agent terug gekom het na ons toe om te sê ons aanbod op ‘n 38 akker / 15 hektaar plasie net buite Danville, KY, is aanvaar, was daar snaaks genoeg geen hallelujah, redneck hee-haa of jubelende oomblik nie. Geen geronddansery of sjampanje oomblik nie. Ja, ek was natuurlik blyeen oorweldig, maar dit was meer asof daar ‘n salige tevredenheid oor my neergedaal het. Meer ‘n tevredenheid oor die voltooing van ‘n sirkel. ‘n Tevredenheid oor hoe ver ons gekom het sedert ons migrasie na die VSA. ‘n Saligheid oor die voortsetting van ‘n familie tradisie om te boer, om op die land te werk en vry te voel.

Dit was amper ‘n sombere Saterdag. Die aand, terwyl ek ‘n eenvoudige maar tipiese geurige Suid-Afrikaanse hoenderpotjie sonder enige tierlantyntjies of vreemde smake gemaak het, het ek baie gedink aan my oorlede pa. Nie so seer of hy baie trots of bly sou gewees het oor my aankopie nie, ek hoop hy sou as hy nog gelewe het, maar meer om dankie te sê vir wat hy oorgedra en my laat ervaar het. Dit het uiteindelik gelei tot my eie drome om ‘n stukkie landelike aarde van my eie te besit.

Ek het my die aand darem self bederf en een van my hoog aangeskewe witwyne (Wine Spectator gee dit 92 punte) wat ek spesiaal gehou het vir ‘n geleentheid soos dit, ‘n Far Niente Chardonnay 2009, oop gemaak en al by myself ge-savor. Maar selfs die komplekse aromas van soet ryp pere en spanspek, die subtiele helderheid en varsheid van die goue voggies in die glas of die lang nasmaak van vye, vanielje en eikehout kon nie my somberheid lig nie. Nie dat ek dit wou gelig gehad het nie, soos ek gesê het, dit was ‘n somberheid van tevredenheid.

Dit sou lekker gewees het as ek kon dankie gesê het vir my pa vir die plant van die saadjie om my eie plasie te besit, doerie tyd, gedurende skool vakansies, toe ek saam met hom deur die Swartland getrek het, in ‘n woonwa gebly het in die veld, terwyl hy van plaas na plaas gegaan het en om vir water te boor. Nie net is die liefde vir die oop veld en boerdery gesaai nie, maar ek het ook geleer, op die tender ouderdom van agt of nege, hoe om aandete in een pot te maak, (kosmaak: iets wat ek nog steeds lief voor is) laag op laag, die vleis op die uie, dan die groente, gegeur met wilde kruie, en laastens die rys. Of net om dankie te kon gesê het vir pikdonkeraande in die veld, soms verlig met die maan, maar meestal slegs deur die sterre, ver van stadsliggloede, maar slegs die gloed van die wapperende tonge van die kampvuur. Daar het ek geleer dat die lewe se egte plesier lê in die eenvoud van selfgeluk in die huidige oomblik. Nie in môre nie, nie in volgende week nie, maar tevredenheid met vandag.

M en ek. Cheers! Op die toekoms. Op Lily Rose Ranch en ons nuwe lewe.

Dis nie aldag dat ‘n mens ‘n plaas koop nie. Tewens, die meeste mense wat ek hier in Amerika ken dink seker ons is gek om op ons ouderdom by die “boerevereniging” aan te sluit. Maar dis gaan nie oor ouderdom nie. Dit gaan oor ‘n positiewe denkwyse. Hel, ek is nog nie dood nie! Ek glo ook daar is nog ‘n goeie twee dekades van werk oor in die lyf van my. Verder gaan dit oor ‘n anderse leefwyse. ‘n Leefwyse van, so veel as moontlik, produksie van jou eie kos, weet waar dit vandaan kom en die genot van plaasvars produkte; vleis, groente en vrugte (vrugte is eerlike waar van swak gehalte in die VSA.) In plaas van die gewone rat van net werk toe gaan en terug te kom, rondvroetel in ‘n gevestigde tuin, eet, ‘n glasie wyn te geniet en TV kyk, gaan dit ‘n hemelse verandering wees om weer uit te sien na iets nuut. En alhoewel ek nie die wêreld van beton, teer, stadslawaai en werksgejaagtheid gaan agterlaat nie is die moontlikhede van naweekboerdery en om iets anders te probeer en om anders te lewe legio. Om weer te droom oor die uitleg van ’n nuwe groetetuin, ‘n land te vorm na jou eie wense, die aanskaf en grootmaak van ‘n paar skape, bokke, beeste, hoenders (wat ook al), die oes van groete, die uithaal van eiers, selfs miskien die hand aanslaan om ons eie sponsbotter te karring en te geur met knoffel en kruie of om ons eie bokkaas gepoeier met paprika en ‘n snuf van rooi peper te maak.

Ook vir M is daar ‘n groot uitsien en opgewondenheid na die maak mooi van ‘n nuwe huis, van nuwe style wat inskakel by die plaashuis wat geleë is soos ‘n “cabin in the woods” en van die uitleef van haar eie drome en ‘n nuwe lewenwyse. Sy sien uit na die andersheid van plaaslewe, na die afgooi van die juk van elke-dag-dieselfde-patroon, na om daagliks weer iets nuuts aan te leer of te probeer.

Ons nuwe "cabin in the woods"

Nieteenstaande die opgewondenheid, sien ons nie uit na die Groot Pak en Groot Trek nie. Wie doen ooit? Maar ons albei glo “the good always follows the bad”, die son en die karooblomme verskyn altyd na die reëns.

Vandag, 5:30 namiddag Oostelike Tyd, ‘n maand na die aanbod en teenaanbod toutrekkery het ons uiteindelik besit geneem van die plaas. Die ou Afrikaanse speekwoord van plaas koop is nie perde koop nie is nogal waar. ‘n Maand van harde werk om ons huis gereed te kry vir verkoop en te struwel met die bank (‘n mens moet deesdae, na die 2008 ineenstorting van krediet en die banke, omtrent jou hele finansiele siel bloot lê; om dit in skoon Afrikaans te sê: Banke is deesdae vol kak.)

Eerste aandete op Lily Rose Ranch: Sout en asyn chips en 'n Hempies Du Toit classic. Dis amper 'n sonde om so 'n goeie wyn sommer net so te versnap, maar die geleentheid was reg.

Tyd vir blog skryf sal seker kom en gaan, soms meer gaan as kom, maar dis darem nog nie totsiens aan In the Shadow of the Baobab nie, wat altyd die eerste pioniersfase van ons koms na Amerika sal verteenwoordig, maar dis ook ‘n hartlike hallo en welkom aan die Lily Rose Ranch wat hier tussen die rollende heuwels van die Kentucky graslande gelee is en nou die volgende fase van ons lewens verteenwoordig.

Die uitsig vanaf die agterstoep met 'n perserige sonsondergang voor ons.

Ons eerste besoekers, alhoewel ek dink hulle is gereelde besoekers as ek sien hoe gemaklik hulle is op die plaas ronddwaal.