Die landskap is ‘n lemoen.
Stadig-ontwakend lê dit in die oranje-geel môrestond en wag dat die dag moet breek. Op die horison wei swart Angus beeste soos geeste in die halfverligte oggend en smul aan die vars, doubedekte eerste lentegras terwyl voëls van allerhande vere die dag begroet en my ore bestreel met ‘n kakofonie van vrolike opgewekte gesang.
Dis dae soos dié wat dit moeilik is om die plaas te verlaat vir die beton wereld van afsprake, rekenaars, vergaderings en ander mense se moet-gedoen-word dinge.
Dis dae soos dié waar die rustige genot van oggendkoffie op die agterstoep en ‘n gestap deur die veld meer van pas sou gewees het om die dag te begroet.
Dis dae soos dié wat my laat wens dis elke dag Saterdag.