Die oggend was kraakvars. Sonnig, nog koelerig maar vol
belofte dat dit 'n pragtige warm dag gaan word. Die wolklose blou hemelruim, amper
daardie bekende Provençal blou, wat al deur menige skilders nageboots is,
vertoon ietwat van ‘n deinserigheid. Druppels vogtigheid. Nalatings van die
morestond se dou.
Eglise St. Pierre kerk
Ons het die woonstel vroeërig verlaat en ons pad deur die smal klipstraatjies van
Avignon se ou stad gewurm, verby die Eglise St. Pierre kerk met sy pragtige
deure en goue altaar, tot ons by die bopunt van die rue de la Republique gekom het waar dié oopgevou en uitgespoel het op die Place de l'Horloge. Die talle opelug restaurante
en smouskarretjies het soos eilandjies in ‘n meer op die plaza gelê. Ons het links gedraai,
treinstasie se kant toe en met Avignon se hoofstraat vir inkopies afgestap tot
by die toerismekantoor in cours Jean
Jaurès.
Eglise St. Pierre kerk
Ons het 'n 9:00 vm afspraak gehad met ons wynkenner, motorbestuurder,
kultuuronderwyser en grapjas vir die dag, David, van die Avignon Wine Tour maatskappy. Dié toer maatskappy spits hom toe op klein, meer
intieme toergroepies. Daar was net vyf van ons op die toer. ‘n Amerikaanse
student op sy brugjaar en wat wou leer van wyn en die proses en Franse kultuur,
en ‘n jong egpaar van Pennsylvania, wie se vakansie met die aanlanding in
Avignon nie te goed begin het nie. Die treindrywers het alweer begin staak. Wie
weet waaroor hierdie keer. Die egpaar was basies gestrand of moes met ‘n bus na
hul volgende bestremming, Aix-en-Provence, reis.
Ek is nie ‘n Frankofiel nie. Ek glo ‘n mens moet daarvoor
alles Frans inasem en leef. Maar ek hou van hulle kos en hul wyn. Alhoewel ‘n
mens die kos en wyne orals ter wereld kan geniet is die ware Jakob mos altyd
lekkerder. (In ‘n vorige bloginskrywing het ek oor ‘n denkbeeldige wyntoer en Côtes du Rhône wyne geskryf.) Ons het
deurgaans probeer om altyd tradisionele geregte te bestel en natuurlik plaaslike
wyne te drink. En op daardie spesifieke Woensdag was dit dan ook nie anders
nie.
Die toerplan was kort en kragtig: Twee wynmakers voor en twee
na middagete. Ons eerste stilhou plek was by die Brotte familie se Le Musée du Vin
en proekamer om te leer oor die wynmaakproses en die geskiedenis van wynmakery
in die area. Alhoewel interessant laat die museum se inhoud veel te wense oor
veral Suid Afrika, want die wereld se sesde grootste wyn produseerder word glad
nie eens gemeld in die museum nie terwyl kleiner produseerders soos Australië, Chili en Argentinië wel verskyn op die
groot muurkaart. In die verbygaan het ek dit aan David, nou die
geskiedenisonderwyser, genoem, maar al wat ek gekry het was die tipiese Franse
antwoord: Oë wat
hemelwaarts slaan, mond wat ondertoe getrek word, oop hande wat sywaarts
opgelig word, amper asof hy die seën
wil uitspreek oor my en ‘n oplig van die skouers. Oui!
Miskien was ek net te sensitief?
Brotte wyne.
Links is ‘n verweerde bottel meerjarige-oesjaar
Brotte Pere Anselme “La Fiole du Pape.” David, ons wynkenner, wat vinnng
verander het na ‘n wynverkoper, wou my laat glo dat die voggies afkomstig was
van 80 jaar oue wingerde, terwyl hy ons deur die proses van kyk, ruik, en proe
geneem het. Die wingerde “mag” dalk so oud wees, maar die wyn was maar middelmatig,
te plat, geen diepte nie. ‘n Mens kan seker ook nie te veel verwag van ‘n wyn
wat nie eintlik bedoel is vir veroudering nie. Regs is Brotte se 2011 witwyn.
Ditto! Let’s move on. Ek kon net hoop dit sou beter word soos die dag
aangaan.
Hoe gou het die oggend nie verby gegaan nie en middagete was
op hande. Middagete was in Le Verger des Papes neffens
Châteauneuf-du-Pape se ou vervalle kasteel.
Daar is maar min oor van die kasteel want die terugtrekkende Duitsers
wat die toring en kasteel gedurende die Tweede Wereldoorlog as ‘n opservasiepos
en ammunisie stoorplek gebruik het, het die plek opgeblaas op Augustus 20,
1944. Net die oostelike muur het behoue gebly. Die restaurant se ligging is
idilies, bo op ‘n koppie met pragtige uitsigte oor die omliggende wynplases,
Avignon en die Rhône
Rivier wat soos ‘n silverslang in die verre deinserigheid gelê het.
(Word vervolg...)
Heading image: Hotel Château des Fines Roches in Châteauneuf-du-Pape