Na ‘n driegang middagmaal en 2 bottels wyn tussen die vyf
toer lede, was die oë
maar swaar, die ledemate lui en teen daardie tyd het die sonnetjie lekker gebak
en die gat liggies begin stamp. Maar David, die ervare toerleier wat hy was,
was seker gewoond daaraan, want oppad na ons volgende proekamer het hy gestop
by Chateau Mont Redon, ‘n wynplaas sedert 1344, aan die voet van die koppie en ons toegelaat
om die wingerd in te vaar en die dekades oue geknolde en verwronge wingerd stamme en Châteauneuf-du-Pape
se beroemde ronde klippe van nader te beloer.
Volgens David, en menige ander
kenners is dit die einste “rivierklippe” wat saamwerk om Châteauneuf-du-Pape se
gehalte wyne te maak. Bedags hou dit die grond relatief koel en beskerm dit die
druif se wortels teen die hittige somers en snags verhit die verwarmde klippe
die grond weer. Geologies gesproke is die rivierklippe daar gedeponeer deur
gletsers aan die einde van die laaste ys-tydperk. Maar dis ‘n te ver draai en
te lang storie om te gaan haal vir dié
bloginskrywing.
Alhoewel dit na oestyd was was was daar tog nog hier en daar
druif aan die tak. Klein, goud geel korreltjies, goed-ryp en stroopsoet.
Miskien Roussanne, miskien Grenache blanc, miskien Viognier?
Mededeelsaam met die druiwe.
Ons derde proekamer was Domaine de Beaurenard. Die wynplaas het
‘n lang geskiedenis van wynmakery. In 1695 het die Coulon familie die plaas Bois Renard gekoop. Dieselfde familie, 7 geslagte later, boer nog steeds daar. In die indrukwekkende ontvangslokaal is glasbottels met voorbeelde van die 13 druif kultivars wat gebruik kan word om ‘n Côtes du Rhône
of 'n Châteauneuf-du-Pape wyn te maak. Na ‘n kort besoek aan die wynkelder onder die ontvangslokaal, was
dit proetyd.
Ons het drie rooiwyne geproe: Die Beaurenard Châteauneuf-du-Pape en
die Boisrenard Châteauneuf-du-Pape vanaf hul 80 akker plaas in die Châteauneuf-du-Pape
vallei en hul Côtes
du Rhône Villages
2009 vanaf die Rasteau area, in Vaucluse, waar die Coulon familie ook ‘n
wynplaas het. Die Rasteau was bietjie swaar vir ‘n vroeg middag proeëry maar oor die algemeen
was dit ‘n wyn van gemiddelde gehalte. Dieselfde kan egter nie gesê word van die twee Châteauneuf-du-Pape
wyne nie. Albei was top gehalte, de
qualité supérieure. veral die Boisrenard was uitstekend. Alhoewel vrugtig,
swartbessies en pruime was toonaangewend, het dit komplekse karakter getoon met
donker sjokolade en spesery nasmaak. Soos die Engelsman sou sê: This was good stuff.
Ons laaste wynlandgoed was ook vir my amper die lekkerste. Clos
Saint Michel lê op
die oorsponklike bodem van die Rhône
Rivier valley, net suid van die dorpie en langs die D17 wat Châteauneuf-du-Pape
met Sorgues and Avignon verbind. Die ontvangs en diens van die eienaars was aards,
spontaan en ontspanne en hulle het ons werklik tuis laat voel. Met ons aankoms
het Monsieur Mousset Sr. ‘n koeltetjie geniet in ‘n lêstoel in die skadu van ‘n boom neffens die opstal.
Siesta-tyd! Een van die huidige wynmakers, Olivier Mousset het ook kom inloer
in die proekamer, klere rooi gevlek en nat van kelderwerk. Ek het baie van hul
wyne gehou. Baie swartvrug met heelwat lyf, sag en rollend in die middel, met
‘n peperige stert wat vir lang oomblikke draal op die palaat. Beesstertpotjiekoswyn.
Laat middag, na die terug ry na Avignon en ons ons au revoirs gesê
het vir ons mede wynvliee/kultuur-najagters en hulle die beste toegewens het
met hul poging om na Aix-en-Provence te reis, het ons stadig terug gestap
woonstel toe. Terwyl ons rustig kykinkopies gedoen het al met rue de la Republique langs het die
huistoe-gaan skares rondom ons geskarrel. ‘n Man wat vinnig indraf by die boulangerie vir die verpligte vars
broodjie vir aandete. Daar een met ‘n bottel wyn onder die arm. ‘n Groepie
studente wat lukraaks van winkelventer tot winkelventer beweeg en ooo and aaa. Menigde wat net strak voor hul uitstaar, ‘n bestendige
pas handhaaf en doelgerig hul pad oopvleg deur die aankomende massas na hul
bestemming toe.
Ons was vroegaand weer tuis in ons woonstel wat uitgekyk het
oor die Eglise St Pierre Kerk en die Pous se Paleis met ons voete op die gemak stoel se armleuning en ons
vakansiegees verder ingesonke. Rustig. Later die aand het ek ‘n ligte maaltyd gemaak
van groenslaai, donker olyfbrood, en skerp plaaslike kaas wat ons die vorige
dag in Gondes gekoop het, en die laaste van ‘n bottel Beaumes-de-Venise
gedrink, ‘n present van die woonsteleienaar, en een van die lekkerste wyne wat ek
in Frankryk gedrink het.