Daar het dié week so ‘n klein stormpie in die Afrikaanse
musiekbedryf se koppie boeretroos uit gebreek. Gert Vlok Nel, skrywer, digter,
sanger, en ‘n diep seun van die Afrikaanse taal, het die sanger Theuns Jordaan
daarvan beskuldig dat laasgenoemde glo sy liedjie Beautiful in Beaufort-Wes, 18
jaar gelede gesteel het en slegs skamelike tantieme van ongeveer R8,000 aan
Vlok oor betaal het. Ai toggie! En dit terwyl Nel gekrepeer het van armoede in
die Karoo en Jordaan meer as 500,000 eksemplare van die liedjie verkoop het.
Ek persoonlik het natuurlik geen haan in dié geveg nie.
Tewens, ek het nog nooit voor vandag na die liedjie Beautiful in Beaufort-Wes
geluister nie. Na ek die storie gelees het het ek na albie se weergawe van die
liedjie gaan luister op Youtube en ek kan eerlik nie verstaan waaroor die
bohaai gaan nie. Nog minder kon ek verstaan hoe op dees aarde Jordaan 500,000
eksemplare kon verkoop gekry het, each
to its own I guess. Maar volgens my kennis van die musiekbedryf is dit nie die
sanger wat ‘n ander sanger se musiek opneem se plig om tantieme oor te betaal
nie, maar die oorsponklike musiek uitgewer se plig. Dit werk so wêreld wyd. En
hoekom die musiek bedryf anders werk as die boek bedryf waar skriftelike
toestemming verkry moet word van die skrywer om sy or haar werk te gebruik, dit
kan ek ook nie verduidelik nie. So Gert Vlok Nel sal maar aan ‘n ander deur
moet gaan aanklop om sy tantieme te herwin. Good Luck! Onthou wat gebeur het
met Sixto Rodriguez.
Vanoggend, terwyl rëenbui na rëenbui oor Kentucky uitgesak het, ek die storie op Maroela Media raakgelees het en ek ‘n ongewone Saterdag “vry” het op die plaas, het die geskarrel in die Afrikaanse musiekskuur my laat heriner aan ‘n Saterdagaand so amper ‘n jaar gelede toe ek en M en ‘n klomp ander Suid-Afrikaners opgetrek het Shelbyville toe om na ‘n konsert van Theuns Jordaan te gaan kyk in ‘n perdeskuur. Hy was deur ‘n Suid-Afrikaner wat nou hier in Kentucky boer uitgenooi om te kom op tree op ‘n perdeplaas met die gepaste naam van Singing Hills Farm, natuurlik sonder enige bedoelde woord speling. Voor die konsert het ek geen idee gehad wie Theuns Jordaan is nie en ek en M moes eers na van sy musiek gaan luister het. Ons was nou nie juis bowled over nie maar ‘n saamtrek is ‘n saamtrek. Hy kon wel daardie aand Beautiful in Beaufort-Wes gesing het, ek het geen idee nie.
Ek sê “’n vry Saterdag” want die afgelope twee maande met elke vrye oomblik is ek, M en my seun al besig om die plaashuis se sederhout huisbedekking te “power wash’, af te skuur, te sandpapier en te verf terwyl dit die warmste, natste, bedompigste en mees insekte-besmette somer is die afgelope 18 jaar in Kentucky. En enige iemand wat al hul huis buite om geverf het sal weet wat se enorme taak dit is. So ‘n reëntjie op ‘n Saterdag is eintlik ‘n verwelkoming. Ongelukkig was daar ander werk wat ek toe gaan gedoen het in die werkswinkel. Daar is nooit regtig iets soos ‘n vry Saterdag nie.
En die ongure weersomstandighede gedurende die somer het ook
veroorsaak dat die groentetuin maar ‘n skrale oes voort gebring het. Vorige
jare het ons altyd ‘n oorvloed van groenboontjies en tamaties gehad wat ingelê
kon word vir kerrieboontjies en pastasous, maar vanjaar is daar te min. Dit wat
geoes kon word moes dadelik gebruik word in ‘n dis. So terwyl ek op die
agterstoep sit en ‘n koppie boeretroos drink en die rëen beloer met droewige
oë, dink ek wat ek sal maak met die emmertjie tamaties wat ek twee dae gelede
geoes het. Daar is eitlik maar net een oplossing. Iets wat ek al weke voor lus
is. Tamatiebredie! Wat is dan nou lekkerder as skaapskenkel en tamatiebredie.
Ek besef skaapnek is seker ‘n beter snit maar om skaapnek in ons geweste by ‘n
kruidenierwinkel te kry is soos om vir kudobiltong in Amerika te soek. En die
skaap wat ek laas geslag het, net soos alle ander skape, het ongelukkig net een
nek gehad en dit is al lank gelede in ‘n Franse bredie verorber.
Ek weet dit is nie winter in Kentucky nie, maar die bewolkte, renerige weer het my laat voel ek is genoop om ‘n bredie te maak. En wie het die reël neer gelê om te sê bredies is net winterkos? Sielskos bly sielskos, winter of somer. Tamatiebredie is een van die egte tradisies wat Suid-Afrikaners van die Hollanders geerf het. Dit is so tradisioneel Suid-Afrikaans soos braaivleis, biltong, malva pudding en Hertzog koekies. By sommige mense is daar die persepsie dat die Maleiers bredies na Suid-Afrika gebring het, maar dit is eintlik ‘n dis wat seker in die Midde Ooste by die oer-oue mense ontstaan het en toe weswaarts na Europa gereis het. Ek is seker die Franse Hugenote het ook hulle stempel op sekere Suid-Afrikaanse bredies geplaas, maar die Hollanders en later die trekboere en hul swart driebeenpotjies het die grondslag gelê om bredies ‘n lekkerbekkig en ‘n kulturele erfstuk van te maak. Dis seker hoekom swaarboompotte, swart gegote yster vir die vuur of gekleurde Chasseur vir die stoof of oond vandag nog bekend staan as “Dutch ovens”.
En om bygaande impak te voeg by die gemoedstoestand van tradisionele Suid-Afrikaanse kookkuns het ek my kelder besoek en ‘n bottel Groot Constantia 2008 Cabernet Sauvignon gaan uitkies. Wat kan nou meer tradisioneel wees as voggies van die oudste wynplaas in Suid-Afrika, die een wat die grondslag gelê het vir wynbou in die land. Ek het die bottel gekoop tydens ons laaste besoek aan Suid-Afrika in 2010 en dit gehou vir ‘n spesiale geleentheid en sienende dat my swaer Godfrey vandag sy 50ste verjaarsdag daar in die Suidelike Halfrond vier, is dit ‘n ideale geleentheid om dié bottel Groot Constantia van sy opgekurkte aromas en smake te verlig.
Sielskos!
Kaapse Tamatiebredie saam met Kaapse rooiwyn! Altyd ‘n
uitstekende kombinasie!
Nou sit ek hier na aandete en in die woorde van daardie
Worcester boytjie met die rooi veldskoene, David Kramer, “stoksiel alleen op ‘n
Saterdagaand” maar gelukkig saam met M, op die agterstoep en sip aan my eie
tuisgemaakte koppie Italiaanse cappuccino. Die tamatiebredie het fantasties
uitgekom en die wyn was topgehalte. Definitief die hoë prys werd. Die storm in
die Afrikaans musiekbedryf is vergete. Dit reen nog steeds en meer word
voorspel vir die res van die nag. Maar die oomblik om te waardeer is nou. Die
lewe is eenvoudig te kort vir margarine, geproseseerde kaas, TV dinners,
Budweiser Light en goedkoop rooiwyn.
PS: Ek sien nog 'n Afrikaanse troebadoer, Valiant Swart, is
ook aan die kla oor booking agents en venue-eienaars wat maar traag is om te betaal
wanneer hulle moet. Ek skat daar is ietsie wat stink en vrot is in die
Afrikaanse musiekbedryf.
No comments:
Post a Comment