In sy debuutroman, Die Sommelier, stel GP Terblanche dan ook nie teleur nie, tewens hy gaan verder en soos ‘n beelhouer skep hy uitstekende en kontrasterende Suid Afrikaanse karakters wat amper uit klip gemaak is: In Oosterbeek, die tipiese sekuriteitsbewuste, werkgefokusde, diknek Afrikaner spioen wat nog glo dat blanke mans ‘n bydra kan lewer in ‘n polities gebaseerde intelligensie apparaat, en in Lev Engelbrecht, ‘n wyndrinkende, natuurliefhebbende, maar ontnugterde en marginaliseerde man wat opgegee het om binne die raamwerk van die na-apartheid, swart gedomineerde intelligensie netwerk te probeer in pas.
Die Sommelier is ‘n spioenasieriller wat af speel teen ‘n agtergrond van internasionale radikale-Moslem terrorisme, transformerende restellende aksie en Swart Ekonomiese Bemagtiging (Black Economic Empowerment). Maar dis ook ‘n verhaal van Lev Engelbrecht, ‘n man wat voorraad neem van sy lewe en probeer uitvind wat hy moet doen in die toekoms, en van Johan Oosterbeek wat wil vasklou aan wat hy het en waaraan hy gewoond was. Dan is daar nog die knoeiende Amerikaners, 'n groep tipiese Suid-Afrikaners wat op 'n wilds-oord werk, en nasionale intelligensie werkers met hul eie agendas van korrupsie en afpersing.
Die roman begin stadig, amper te stadig, met terugflitse na ‘n vorige lewe en liefde, maar die tempo neem toe soos verskillende karakters die ingewikkelde aksieteater betree. Die rol van wyn (sensueel beskryf), die beskrywing van Suid-Afrika se natuurskoon, die insig tot onbevoegheid van staatsamptenare, en die kortsigtigheid en selfverrykende aksies van die nuwe Suid-Afrikaanse politici verdiep die storielyn.
En ja, dan is daar die sosiale kommentaar oor die politiese verlede en hede van Suid-Afrika. Dit maak nie afbreek aan of trek nie die aandag van die storie nie. Soos enige Alan Furst roman verbreed die sosiale kommentaar die storie se agtergrond en skep dit atmosfeer rondom die karakters, al kom sommige van die sosiale kommentaar van die pragtige Amerikaanse spioen, Jane Turnbull, wat nie groot insig tot die Suid-Afrikaanse geskiedenis het nie:
“Hulle sê dis die Afrikaners wat die [Voortrekker] monument gebou het om hulle trekgeskiedenis te gedenk. Sy wonder wat hulle oorreed het om ‘n brutale stelsel soos apartheid jare later te implementeer. Hoekom was hulle so wreed? Wat was hulle motivering? Was of is hulle in werklikheid inherent slegte mense. ‘n Klomp konserwatiewe, primitiewe mense. Bybel in die een hand, voorlaaier in die ander.”Maar dis nie net sosiale kommentaar wat van buite na binne kyk nie. Lev Engelbrecht ken Suid-Afrikaners, weet hoe dit binne hulle koppe lyk, veral in die nuwe Suid-Afrika:
“Ek stel niks meer belang nie. Ek’s lankal klaar! Hoe kan jy anyway saamleef met die middelmatigheid…Ek hou nie van die fôkken regering nie en nog minder van hoe hulle die land bestuur. Ek het geen lojaliteit nie!”Daarteenoor is Oosterbeek nog steeds die gelowige in die nuwe stelsel:
"Nou goed! Ek werk vir die fucked-up spul! Ek sien die fôkken middelmatigheid! Dink jy ek is blind! Dink jy ek weet nie wat om my aangaan nie? Dink jy dis lekker vir my om al die kak elke dag op te vreet? …Maar, fôk! Wat as ons nou elkeen tou opgooi en wegloop! As ons nie dinge ten minste prober beter maak nie!”
Dis die eerste keer in seker 15 jaar dat ek ‘n Afrikaanse roman gelees het, en dit was beslis die moeite werd. Daar is genoeg legkaart-storielyne soos dit behoort te wees in ‘n spioenasieriller en baie byspelers om die geheel interessant te hou. Die karakters kom lewensgetrou voor en die gebeure is verteenwoordigend moontlik van die tydperk se koerant opskrifte. Ek het die boek baie geniet. Was ook lekker om weer ‘n slag Afrikaans te lees.
Lees meer oor die boek by die skrywer se blog:
http://boerinballingskap.wordpress.com/2010/01/08/binne-elkeen-van-ons-skuil-daar-n-boek/
of Rapport se review van die boek.
Die Sommelier - GP Terblanche
Uitgewer: Rosslyn-Pers Prys: R140
Die boek is verkrygbaar by Protea Boekwinkel in Stellenbosch en moontlik nou ook landwyd.
Die Sommelier omslag foto krediet: GP Terblanche