Thursday, July 19, 2012

Geheimsinnige Hugenote


OMG! Die reuk van reën op bare gebarste kleigrond en die omsingellende koelte na weke van moordende hitte is soos om van te dans in die reën. Hitte soos dié het ons nog nooit in Kentucky ervaar nie. ‘n 100 plus grade Fahrenheit (37 grade Celcius) hier of daar elke 5 jaar of so maar nie 9 dae agtermekaar nie. En dit nadat ons vir 6 weke amper geen reën gehad het nie. En toe dit een dag net 95 grade Fahrenheit is sê ons “dis nogal koel vandag.” Wanneer praat ‘n mens van 95 grade en koel in dieselfde sin?

Aanhoudende hitte soos die het ek laas ervaar toe ek ‘n twintig jarige konskripsie snotkop was wat denkbeeldige ANC terroriste in Vhembe, wes van Weipe and Musina, in die Limpopo provinsie van Suid Afrika, moes najaag en die agterdeur na Botswana moes bewaak terwyl hulle in hordes by die Mozambique voordeur in gestroom het. Ek het later tot die slotsom gekom dat ons eintlik maar net die generaals se jagplaas naby Vhembe, net noord van Alldays beskerm het en gekeer het dat onsuiwere karakters nie hul blikkies bully beef en Koo uie-en-tamatiesous kom steel nie. Om nie eens te praat van die toegesluite kaste vol Kaapse Pinotage nie. Nie dat hulle ooit blikkieskos geëet het nie, dis nou die generals, want wild was volop en skiet was lekker. Ons konskriptes moes maar tevrede gewees het om 2 weke se kos, meestal mieliepap, wat ons laatnag uit die kantien gesteel het, en army rations op ons rue te dra en deur snikhetende bospaadjies strompel terwyl mopanie vliee, die locals noem hulle mos mokabye want hulle maak so ‘n halwe teelepel heuning in klein gaatjies in die mopanie bome, op ore, oë, neusgate en monde afgeduik het soos manlike spermselle op ‘n onbevrugte vroulike eier.  Spore van terroriste is nooit gesien nie, net die van luiperde en olifante en wild. Wat ‘n waste of time en effort was dit nie op die ou einde nie.  Maar deur die eeue heen is jongmans mos maar so geknie en gekarnuffel en voor in die linies gestoot ten koste van die behoud van of adelike bewind, of landsbeskerming of nasiebou.


Vhembe in die verre noorde van Suid-Afrika. Die land van reuse kremetart bome van tussen 300 en 500 jaar oud, die mooiste oranje sonsondergange, ou koninkryke, en pragtige Afrika natuurskoon.

Praat van nasiebou. Die afgelope week of twee dink ek soms aan Marie Grillion. Sien, ‘n maand of so gelede het ek ‘n pakkie uit Suid-Afrika gekry wat my skoonsus aangestuur het. Ek het seker laas ‘n pakkie gekry toe ek op die Suidwes-Afrika grens was in dieselfde bogenoemde patrollie-loop-terroristejag-oorlog, maar toe teen SWAPO, so ’n jaar of drie voor die Vhembe uitstappies. Doerietyd se pakkies was gevul met tuisgebakte (verkrummeld teen die tyd dat ons dit gekry het) Jan Smutsies en soetkoekies, biltong en kondensmelk (lopende goud in die army), maar my onlangse pakkie het spesifieke klere, springbok biltong (wat die Amerikaanse doeane gekonfiskeer het, bastards! hulle het my nogal ‘n mooi nota in die box gelos om te sê wat hulle gevat het) en inligting bevat. Inligting wat ek al lang na soek. Inligting oor die Malherbes. Inligting oor Marie Grillion, the stammoeder van die Suid Afrikaanse Malherbes.


Vir jare nou al is ek besig om my stamregister saam te stel. Nie die maklikste taak onder die son as ‘n mens ver van geskiedkundige inligting aan die anderkant van die Atlantiese Oseaan sit nie. So daar word baie emails gestuur en mooi gepleit vir samewerking en baie gehoop ander sal van hulle kosbare tyd afstaan om my indulgence vir inligting te verwesenlik. Waarom die Malherbes? Wel my ma was ‘n nooi Malherbe.


Dit will blyk, uit die inligting wat ek bekom het, dat Mademoiselle Marie Grillion ‘n tawwe tannie was en ietwat gehul in geheimsinnigheid. Sy’s of gebore in 1670 naby Mer, Frankryk, in die destydse graafskap van L’Orléanais, in vandag se Loire vallei, suidwes van die stad Orleans, of in 1673  as Marie Gruyon in Balinghuem, naby Calais, Frankryk. Bronne verskil. Daar is ook onsekerheid oor wanneer sy aan die Kaap geland het. Ek dink nie die hoe sy aan die Kaap aangeland het is ‘n kwessie nie, sekerlik met ‘n skip. Maar haar naam or enige Grillion naam verskyn nie op enige van die skeepsjoernale van die Franse Hugenote wat na die Kaap geimmigreer het nie. Dus om in 1688/89 as ‘n 15 of 18 jarige ongetroude meisie in ‘n barbaarse Kaap te land, blykbaar sonder ouers of ‘n chaperon, is nie eintlik dieselfde as wat ‘n  meisie wat vandag in Johannesburg op ‘n vliegtuig klim na London en ‘n plekkie in Shepherds Bush uitskop nie.  Daardie tyd was die Kaap maar rof en die manne nog rowwer en meisies was skaars en min en naarstiglik nagejaag om die voortplantingsproses te begin of om sommer net die eensame lewe minder eensaam te maak. ‘n Man kan mos ook nie net heeldag werk en elke aand in die tavern of the seas deurbring nie.

 Nederlandse skip in Tafelbaai

Was sy ‘n stowaway op een van die bote? Not likely. Het sy incognito ge-travel op ‘n vals paspoort?  Ditto. Was sy moontlik ‘n weeskind en wel onder toesig van een van die ander Hugenote wat op die skip Voorschoten aan die Kaap geland het, maar sy is net nie so opgeteken nie. Sekere bronne bespiegel dat sal dalk op die lang reis vanaf Delfthaven, Nederland op die skip getroud is met Gideon Malherbe. Ek betwyfel dit want dan sou dit tog so op geteken gewees het. Veral omdat Gideon duidelik opgeteken was en waar ander Hugenote se vrouens of kinders hulle vergesel het was hulle ook opgeteken. Nee, Gideon word deurentyd in bronne opgegee as “jonkman” of “jongenheer” wat beteken hy was ongetroud toe hy aan die Kaap geland het.      


Rondom 1690 is sy getroud met Gideon Malerbe (1663-1723] (spelling sonder die h volgens die NGK Moedergemeente Stellenbosch Doopregisters 1688-1732). Hierna verskyn Marie se naam op verskeie dokumente maar altyd as Gideon Malherbe se vrou. Dis opgeteken dat Marie en Gideon hul eerste kind op 8 Julie 1691 in dié kerk gedoop het.  Gideon, die Malherbes se stamvader, is opgeteken as ‘n passasier op die Voorschoten, die eerste skip wat die offisiële immigrasie van Hugenote in 1688 begin het. Daarna het omtrent 225 Franse hulle kom vestig aan die Kaap. Nie ‘n groot aantal nie as ‘n mens dit vergelyk met die 200,000 Hugenote wat uit Frankryk gevlug het nie, maar voor hul koms was daar aan die Kaap en in Stellenbosch net 254 wit mans, 88 vroue, 119 seuns, 112 dogters en 39 knegte.  Daar het ‘n paar verdwaalde of avontuurlistige Fransmanne aan die Kaap aangekom voor 1688. Hulle het seker maar die skrif aan die muur gelees nog voor ou Louis die Edik van Fontainebleau in 1685 geteken het.        


Franschhoek (from the Cape Town Gazette)

‘n Paar jaar na hul troue in 1690 het Gideon en Marie hulle gevestig op die plaas Normandie in die French corner, Franschhoek vallei, wat aan Gideon toegeken is in 1694. Maar daar is ook baie onsekerheid oor Gideon Malherbe. Daar word vermoed dat hy in Loans, Normandy, Frankryk gebore is en daarom sy plaas Normandie genoem het. Daar was altyd en is vandag nog baie Malherbes in Normandy, Frankryk. Maar in bronne oor Hugenote wat Normandy uitgevlug het verskyn sy naam nie. So wanneer hy in Holland aangekom het en wat hy daar gedoen het voor sy vertrek na die Kaap is duister. En wat Gidion tussen 1688 en 1694 aan die Kaap gedoen het is ook onbekend. Ons weet wel dat hy nie lank op Normandie gebly het nie want kort na 1700 het hy na Wamakersvallei getrek (vandag Wellington) en in 1702 het hy die plaas De Groene Fonteyn geerf en ook later die plaas Hexenberg gekoop. Nie dat hy Normandie verkoop het nie. Dit het in familie besit gebly tot 1734 toe dit aan Gideon se skoonseun Jurgen Radijn verkoop is en Jurgen dit in 1744 aan Jan De Villiers van Boschendal faam verkoop is. Maar meer oor Gideon en sy, sommige duistere mannewales op ‘n latere stadium.




Vandag is die plaas Normandie nog presies daar waar dit 318 jaar gelede aan Gideon toegeken is. Dis geleë tussen Paarl en Franschhoek op die R45, aan die suide kant van die pad net na die brug oor die Dwarsrivier, geleë tussen die plases Boschendal en L’Ormarins. Ek dink dit behoort vandag aan die bekende perderesies Maingard familie wat ook Dieu Donné en La Cotte in die Franschhoek vallei besit. Daar is wel ander Malherbe nasate wat nog steeds wyn bedryf in die Franschhoek vallei, byvoorbeeld Eikehof.


En Madame Marie? Wel sy sou nog 22 of 23 jaar lank na Gideon se afsterwe bly lewe en bly boer op Hexenberg en die ander twee plase wat sy geerf het van Gideon. Dit wil blyk dat sy in die boerdery gehelp is deur haar enigste oorlewende seun Pierre. Soms was sy eerbaar en soms het sy wit leuens aan die owerheid vertel vir onbekende redes, soos die keer in 1713 toe sy ‘n opgawe moes maak oor haar besittings en gesê het haar man het aan natuurlike oorsake gesterf. Die waarskynlike waarheid was en sy het dit glo later “erken” dat Gideon en drie van haar kinders (moontlik net 2 kinders (Susanna and Gideon) want hul eerste kind, Gideon, gebore 1691, is moontlik dood voor 1702 omdat ‘n verdere kind genaamd Gideon in 1702 gedoop is) in 1713 aan “pokkies” smallpox dood is. Daar word gereken dat in 1713 tot 1585 Europeërs (meer as 800 was kinders) in die Kaap  aan pokke gesterf het. In ‘n verslag aan Nederland het die owerheid gerapporteer dat daar skaars “20 gesonde mense in die Drakenstein is”.