OMG! Die reuk van reën op bare gebarste kleigrond en die omsingellende koelte na weke van moordende hitte is soos om van te dans in die reën. Hitte soos dié het ons nog nooit in Kentucky ervaar nie. ‘n 100 plus grade Fahrenheit (37 grade Celcius) hier of daar elke 5 jaar of so maar nie 9 dae agtermekaar nie. En dit nadat ons vir 6 weke amper geen reën gehad het nie. En toe dit een dag net 95 grade Fahrenheit is sê ons “dis nogal koel vandag.” Wanneer praat ‘n mens van 95 grade en koel in dieselfde sin?
Aanhoudende hitte soos die het ek laas ervaar toe ek ‘n twintig jarige konskripsie snotkop was wat denkbeeldige ANC terroriste in Vhembe, wes van Weipe and Musina, in die Limpopo provinsie van Suid Afrika, moes najaag en die agterdeur na Botswana moes bewaak terwyl hulle in hordes by die Mozambique voordeur in gestroom het. Ek het later tot die slotsom gekom dat ons eintlik maar net die generaals se jagplaas naby Vhembe, net noord van Alldays beskerm het en gekeer het dat onsuiwere karakters nie hul blikkies bully beef en Koo uie-en-tamatiesous kom steel nie. Om nie eens te praat van die toegesluite kaste vol Kaapse Pinotage nie. Nie dat hulle ooit blikkieskos geëet het nie, dis nou die generals, want wild was volop en skiet was lekker. Ons konskriptes moes maar tevrede gewees het om 2 weke se kos, meestal mieliepap, wat ons laatnag uit die kantien gesteel het, en army rations op ons rue te dra en deur snikhetende bospaadjies strompel terwyl mopanie vliee, die locals noem hulle mos mokabye want hulle maak so ‘n halwe teelepel heuning in klein gaatjies in die mopanie bome, op ore, oë, neusgate en monde afgeduik het soos manlike spermselle op ‘n onbevrugte vroulike eier. Spore van terroriste is nooit gesien nie, net die van luiperde en olifante en wild. Wat ‘n waste of time en effort was dit nie op die ou einde nie. Maar deur die eeue heen is jongmans mos maar so geknie en gekarnuffel en voor in die linies gestoot ten koste van die behoud van of adelike bewind, of landsbeskerming of nasiebou.
Praat van nasiebou. Die afgelope week of twee dink ek soms aan Marie Grillion. Sien, ‘n maand of so gelede het ek ‘n pakkie uit Suid-Afrika gekry wat my skoonsus aangestuur het. Ek het seker laas ‘n pakkie gekry toe ek op die Suidwes-Afrika grens was in dieselfde bogenoemde patrollie-loop-terroristejag-oorlog, maar toe teen SWAPO, so ’n jaar of drie voor die Vhembe uitstappies. Doerietyd se pakkies was gevul met tuisgebakte (verkrummeld teen die tyd dat ons dit gekry het) Jan Smutsies en soetkoekies, biltong en kondensmelk (lopende goud in die army), maar my onlangse pakkie het spesifieke klere, springbok biltong (wat die Amerikaanse doeane gekonfiskeer het, bastards! hulle het my nogal ‘n mooi nota in die box gelos om te sê wat hulle gevat het) en inligting bevat. Inligting wat ek al lang na soek. Inligting oor die Malherbes. Inligting oor Marie Grillion, the stammoeder van die Suid Afrikaanse Malherbes.
Vir jare nou al is ek besig om my stamregister saam te stel. Nie die maklikste taak onder die son as ‘n mens ver van geskiedkundige inligting aan die anderkant van die Atlantiese Oseaan sit nie. So daar word baie emails gestuur en mooi gepleit vir samewerking en baie gehoop ander sal van hulle kosbare tyd afstaan om my indulgence vir inligting te verwesenlik. Waarom die Malherbes? Wel my ma was ‘n nooi Malherbe.
Was sy ‘n stowaway op een van die bote? Not likely. Het sy incognito ge-travel op ‘n vals paspoort? Ditto. Was sy moontlik ‘n weeskind en wel onder toesig van een van die ander Hugenote wat op die skip Voorschoten aan die Kaap geland het, maar sy is net nie so opgeteken nie. Sekere bronne bespiegel dat sal dalk op die lang reis vanaf Delfthaven, Nederland op die skip getroud is met Gideon Malherbe. Ek betwyfel dit want dan sou dit tog so op geteken gewees het. Veral omdat Gideon duidelik opgeteken was en waar ander Hugenote se vrouens of kinders hulle vergesel het was hulle ook opgeteken. Nee, Gideon word deurentyd in bronne opgegee as “jonkman” of “jongenheer” wat beteken hy was ongetroud toe hy aan die Kaap geland het.
‘n Paar jaar na hul troue in 1690 het Gideon en Marie hulle gevestig op die plaas Normandie in die French corner, Franschhoek vallei, wat aan Gideon toegeken is in 1694. Maar daar is ook baie onsekerheid oor Gideon Malherbe. Daar word vermoed dat hy in Loans, Normandy, Frankryk gebore is en daarom sy plaas Normandie genoem het. Daar was altyd en is vandag nog baie Malherbes in Normandy, Frankryk. Maar in bronne oor Hugenote wat Normandy uitgevlug het verskyn sy naam nie. So wanneer hy in Holland aangekom het en wat hy daar gedoen het voor sy vertrek na die Kaap is duister. En wat Gidion tussen 1688 en 1694 aan die Kaap gedoen het is ook onbekend. Ons weet wel dat hy nie lank op Normandie gebly het nie want kort na 1700 het hy na Wamakersvallei getrek (vandag Wellington) en in 1702 het hy die plaas De Groene Fonteyn geerf en ook later die plaas Hexenberg gekoop. Nie dat hy Normandie verkoop het nie. Dit het in familie besit gebly tot 1734 toe dit aan Gideon se skoonseun Jurgen Radijn verkoop is en Jurgen dit in 1744 aan Jan De Villiers van Boschendal faam verkoop is. Maar meer oor Gideon en sy, sommige duistere mannewales op ‘n latere stadium.
Vandag is die plaas Normandie nog presies daar waar dit 318 jaar gelede aan Gideon toegeken is. Dis geleë tussen Paarl en Franschhoek op die R45, aan die suide kant van die pad net na die brug oor die Dwarsrivier, geleë tussen die plases Boschendal en L’Ormarins. Ek dink dit behoort vandag aan die bekende perderesies Maingard familie wat ook Dieu Donné en La Cotte in die Franschhoek vallei besit. Daar is wel ander Malherbe nasate wat nog steeds wyn bedryf in die Franschhoek vallei, byvoorbeeld Eikehof.
3 comments:
Jy weet dit seker, maar jy skryf regtig interessant en onderhoudend. Ek het hierdie boeiende stuk nou baie interessant gevind, weens my eie belangstelling in my voorsate. Dankie.
Andre, jy skryf so boeiend en so interessant. Ek was saam met verskeie Malherbes op skool in Kaapstad. My een vriendin Tina-marie Malherbe se oupa en ouma was Dr. Fransie Malherbe (Afrikaanse prof. by Stellenbosch) en Marie Malherbe, die skryfster. Is die oorsprong van die woord "males herbes" (slegte kruie?) Was nooit seker nie.
Marette, dankie vir die comment. Die algemene aanvaarding is dat Males herbes is die oorspong van die naam. Maar dis slegs waar as 'n mens dit vanaf 'n Latynse punt benader. Waar die Malherbes oorsponklik vandaan kom is nie bekenk nie. In 'n volgende artikel sal ek meer daaroor skryf.
Post a Comment