Thursday, October 31, 2013

Proetyd - 1st Glasie


 
Die oggend was kraakvars. Sonnig, nog koelerig maar vol belofte dat dit 'n pragtige warm dag gaan word. Die wolklose blou hemelruim, amper daardie bekende Provençal blou, wat al deur menige skilders nageboots is, vertoon ietwat van ‘n deinserigheid. Druppels vogtigheid. Nalatings van die morestond se dou.

 
Eglise St. Pierre kerk

Ons het die woonstel vroeërig verlaat en ons pad deur die smal klipstraatjies van Avignon se ou stad gewurm, verby die Eglise St. Pierre kerk met sy pragtige deure en goue altaar, tot ons by die bopunt van die rue de la Republique gekom het waar dié oopgevou en uitgespoel het op die Place de l'Horloge. Die talle opelug restaurante en smouskarretjies het soos eilandjies in ‘n meer op die plaza gelê. Ons het links gedraai, treinstasie se kant toe en met Avignon se hoofstraat vir inkopies afgestap tot by die toerismekantoor in cours Jean Jaurès.
 

  
 
 Eglise St. Pierre kerk

Ons het 'n 9:00 vm afspraak gehad met ons wynkenner, motorbestuurder, kultuuronderwyser en grapjas vir die dag, David, van die Avignon Wine Tour maatskappy. Dié toer maatskappy spits hom toe op klein, meer intieme toergroepies. Daar was net vyf van ons op die toer. ‘n Amerikaanse student op sy brugjaar en wat wou leer van wyn en die proses en Franse kultuur, en ‘n jong egpaar van Pennsylvania, wie se vakansie met die aanlanding in Avignon nie te goed begin het nie. Die treindrywers het alweer begin staak. Wie weet waaroor hierdie keer. Die egpaar was basies gestrand of moes met ‘n bus na hul volgende bestremming, Aix-en-Provence, reis.     

 
 
Daar was geen manier dat ek, 'n grapenut, Provence en die Rhône Rivier vallei sal besoek en nie tyd spandeer in die proekamers van Châteauneuf-du-Pape nie. Hierdie klein dorpie, net noord van Avignon, en sy 3200 hektaar van wingerde, is een van die wynwereld se kleinste en gesogste wynstreke. Côtes-du-Rhônes wyne is van my gunstelinge maar die wyne van Châteauneuf-du-Pape, wat binne die algemene  Côtes-du-Rhônes streek geleë is, was nog altyd buite my bereik. Vins Prestigieux.

Ek is nie ‘n Frankofiel nie. Ek glo ‘n mens moet daarvoor alles Frans inasem en leef. Maar ek hou van hulle kos en hul wyn. Alhoewel ‘n mens die kos en wyne orals ter wereld kan geniet is die ware Jakob mos altyd lekkerder. (In ‘n vorige bloginskrywing het ek oor ‘n denkbeeldige wyntoer en Côtes du Rhône wyne geskryf.) Ons het deurgaans probeer om altyd tradisionele geregte te bestel en natuurlik plaaslike wyne te drink. En op daardie spesifieke Woensdag was dit dan ook nie anders nie.

Die toerplan was kort en kragtig: Twee wynmakers voor en twee na middagete. Ons eerste stilhou plek was by die Brotte familie se Le Musée du Vin en proekamer om te leer oor die wynmaakproses en die geskiedenis van wynmakery in die area. Alhoewel interessant laat die museum se inhoud veel te wense oor veral Suid Afrika, want die wereld se sesde grootste wyn produseerder word glad nie eens gemeld in die museum nie terwyl kleiner produseerders soos Australië, Chili en Argentinië wel verskyn op die groot muurkaart. In die verbygaan het ek dit aan David, nou die geskiedenisonderwyser, genoem, maar al wat ek gekry het was die tipiese Franse antwoord: Oë wat hemelwaarts slaan, mond wat ondertoe getrek word, oop hande wat sywaarts opgelig word, amper asof hy die seën wil uitspreek oor my en ‘n oplig van die skouers. Oui!

Miskien was ek net te sensitief?

 
Brotte wyne.
 Links is ‘n verweerde bottel meerjarige-oesjaar Brotte Pere Anselme “La Fiole du Pape.” David, ons wynkenner, wat vinnng verander het na ‘n wynverkoper, wou my laat glo dat die voggies afkomstig was van 80 jaar oue wingerde, terwyl hy ons deur die proses van kyk, ruik, en proe geneem het. Die wingerde “mag” dalk so oud wees, maar die wyn was maar middelmatig, te plat, geen diepte nie. ‘n Mens kan seker ook nie te veel verwag van ‘n wyn wat nie eintlik bedoel is vir veroudering nie. Regs is Brotte se 2011 witwyn. Ditto! Let’s move on. Ek kon net hoop dit sou beter word soos die dag aangaan. 

 


 
Ons volgende watergat was Domaine Roger Sabon. En dié dag het sommer onmiddelik beter geword. Ons het nie voor die toer geweet watter wynmakers ons sal besoek nie en ek was aangenaam verras toe ons van die hoofstraat afdraai na die Sabon proekamer. Dié wynmaker is bekend vir sy komplekse wyne en die 2009 Prestige and 2009 Reserve wat ons geproe het het nie teleurgestel nie. Beide die wyne was goed gebalanseerd en ‘n goeie mondvol van aktiwiteite op die palaat. Veral die Prestige se sagte tanienne, lae suur inhoud en kompleksiteit van vrugte, peper en leer was indrukwekkend, maar die Reserve was nie te versmaai nie en net ‘n kortkop agter die Prestige.

 


Hoe gou het die oggend nie verby gegaan nie en middagete was op hande.  Middagete was in Le Verger des Papes neffens Châteauneuf-du-Pape se ou vervalle kasteel.  Daar is maar min oor van die kasteel want die terugtrekkende Duitsers wat die toring en kasteel gedurende die Tweede Wereldoorlog as ‘n opservasiepos en ammunisie stoorplek gebruik het, het die plek opgeblaas op Augustus 20, 1944. Net die oostelike muur het behoue gebly. Die restaurant se ligging is idilies, bo op ‘n koppie met pragtige uitsigte oor die omliggende wynplases, Avignon en die Rhône Rivier wat soos ‘n silverslang in die verre deinserigheid gelê het.     

(Word vervolg...)

Heading image: Hotel Château des Fines Roches in Châteauneuf-du-Pape



2 comments:

Anonymous said...

Ek lees deesdae nie veel blogs nie, maar mis nooit jou reisvertelligs nie. Ek leef my in jou beskrywings en geniet dit baie. Die foto's is ook baie goed en maak die lees soveel lekkerder. Ongelukkig is kwaliteit Chateneuf du Pape hier waar ek is, baie duur. Sou wat wou gee om self te gaan proe soos julle het. Wat 'n wonderlike ervaring!

BluegrassBaobab said...

Boer, CdP wyne is orals peperduur. Die goedkoopste bottel wat ek hie by my al gesien het is so $40. So 'n toer is die enigste manier hoe ek CdP wyne kan proe en die plase kan besoek. Was nog altyd mal oor besoeke aan die proekamers en hulle doen dinge ietwat anders in Frankryk as in SA en VSA en wou dit ervaar.