Dis nou al weke dat ek lus is vir boerewors. So uit die bloute uit. Sedert ek laas in 2010 in Suid-Afrika was het ek boerewors geëet, maar dis so lank gelede ek kan nie eens meer onthou wanneer laas nie. Dit moet jare wees. Ek skat 2011 laas. Ek het nou selfs so ver gegaan en geprobeer om boerewors speserye oor die Internet gekoop by African Hut in California en Out of Africa Trading in Vancouver, maar beide het nie Freddy Hirsch se Grabouw Boerewors speserye in voorraad gehad nie. Die goed moet gewild wees. Terloops, wat ‘n verrassing was dit nie toe ek ontdek het dat Grabouw boerewors speserye en vele ander nou beskikbaar is op die Internet. Ek wag nou vir die volgende aflewering daarvan by African Hut.
Hoekom dan net Grabouw speserye? Dis waaraan ek gewoond was,
mee opgegroei het en waarna ek nou smag. Die perfekte balans tussen vleis, vet,
koljander, neutmuskaat en naeltjies. Ek sê nie dis die beste boerewors nie; die “beste” bestaan
net in elke fynproewer se palaat. Boerewors is mos ‘n tradisionele lekkerny en
soos dit maar is met elke land se eie tradisionele geregte, is daar soveel “die
beste” soos elkeen se eie resep of die resep waarmee hy/sy grootgeword het.
Laas Vrydag moes ek in Lexington, KY, wees en toe maar my
moed laat begewe en by Critchfield Meats gaan stop en ‘n pak “Karpse
Boerewors”, soos die etiket gelees het, gekoop. Jare gelede het ek al besluit
Critchfield Meats mag dalk hul boerewors boerewors noem, maar dit was nog altyd
net so ‘n verre smaak afwyking soos die verkragting van die woord “Kaapse” op
hul etikette. Ek het doerie tyd al besluit om nie meer van hul boerewors te
koop nie. Nie dat my probeerslae enigsins beter is nie! Maar dis sooibrandpillewors. Want die geëet van hulle weergawe van boerewors en sooibrand loop hand-aan-hand
soos lovers op ‘n evening stroll na ete. Gewoonlik het
hulle wors te veel asyn en te min koljander in.
Maar dit was nogtans met afwagting dat ek Saterdagaand die
helfte van die pak wors saam met ‘n skaaptjoppie of twee op die kole gegooi het.
Soos altyd het ek ekstra koljander fyngemaal en bo-op die wors geskrooi voor braaityd. Maar groot was my
teleurstelling, wat het ek regtig verwag, maar ook verbasing om ‘n soetigheid
in die wors te proe in plaas van die gewone suurigheid van “te veel asyn.” Nou
nie cheesecake soet nie, maar ‘n duidelike
suggestie van ietsie soet. Het die slagter nou gaan staan en bruinsuiker by die
wors gooi? Ek weet van sekere, rare boerewors resepte wat vra vir
bruinsuiker, (‘n onding na my mening) maar net ‘n titsel om van die asyn te
neutraliseer. ‘n Mens is nooit veronderstel om dit te proe nie. Of as ‘n mens
Karoo Boerewors maak en brandewyn gebruik het ek al gesien die resep vra vir ‘n
bietjie soetwyn. Miskien het die slagter se suikerhand geglip? Of…hy kon tog
nie perdevleis gebruik het nie. Hulle sê
mos dit het so ‘n soeterige smaak en Kentucky is mos perde wêreld. No, no…no benefit of the doubt! Hulle
wors was nog altyd en bly kak.
Maar wat gemaak met die ander helfte van die gekoopte pak
wors? Kom Sondagaand en ek wou eers ‘n Lancashire Sausage Hotpot maak met gekapte aartapels en jong wortels op ‘n
uie, knoffel en bietjie tamatie fondasie, maar hoe meer ek dink aan die soetigheid hoe
meer het ek geneig na ‘n tamatie pasta sous. Die soetigheid gaan mos beter
saamsmelt met die delikate soetigheid van ‘n goeie tamatiesous. Dit laat my mos
ook ruimte om die smaak te beheer afhangende van hoe sterk die neutmuskaat en
naeltjies smaak na vore gaan kom. Ek besluit toe maar om innoverend te wees en
my eie resep te skep Penne con contadino
salsiccia e vino rosso e basilico, Penne met Boerewors, rooiwyn en
basiliekruid, te maak. Nie dat ‘n mens regtig boerewors kan vertaaal na farmer or peasant wors nie. Boerewors is
boerewors! Maar dan weer, dié
wors is ‘n kama-boerewors, so ‘n Italiaanse vertaling is aan die orde van die
dag.
Ek begin toe maar. Of as ek Esmé Euvrard en Jan Cronje mag aanhaal: Só maak mens…
Kap ‘n groot Spaanse geel ui, ‘n handvol jong worteltjies en
3 knoffelhuisies fyn. Intussen verhit ‘n bietjie olyfolie in ‘n pan, voeg die
uie en wortels by en laat dit soteer vir 6 tot 8 minute. Die uie moet begin
karameliseer. Voeg dan die knoffel by vir so ‘n minuut en skep dan alles uit en
hou eenkant. Terwyl die uie en wortels elk hul sagter sy ontdek en mekaar beter
leer ken deur die geprut, sny solank die wors op in 1 duim dwergworsies,
happie grote. Gooi die wors in die pan en braai liggies. Hoekom gooi ek nie net sommer
die wors by die uie nie? Ek wou eers probeer agterkom hoe sterk die reuk van
speserye en asyn na vore kom om te bepaal hoeveel en watter ander speserye en
kruie ek moet byvoeg. Gewoonlik as gegeurde vleis begin opwarm, binne die
eerste 2 of 3 minute, is die ontlading van die verskillende reuke van die
speserye die sterkste. Dis toe dat ek sal agterkom wat die soetheid in die wors
veroorsaak. Of wel ek dink so. Dit was die asyn. In plaas van ‘n tipiese suurige
reuk van bruin asyn het ek ‘n soetige asyn reuk in die stoom vanaf die pan bespeur.
Braai die worsies vir ‘n paar minute net tot alle kante
begin vaal-bruin word. Voeg dan ‘n glas rooiwyn by, laat die alkohol verdamp, skep
die uie-en-wortel mengsel terug in die pan en gooi ‘n 14 oz. bottel gekoopte
tamatie pasta sous by. In my geval was dit ‘n bottel ingevoerde Gia Russa Marinara
sous van Italië, maar
enige goeie spaghetti-sous sal werk. Om so ‘n bietjie extra woema te gee
het ek 1 teelepel gedroogte Siciliaanse kruie, 2 teelepels gedroogte Italiaanse
kruie, sout en swartpeper by gevoeg. Sit
‘n deksel op die pan en laat dit saggies stowe vir omtrent ‘n uur.
Sienende dat ek dan nou ‘n amperse Suid-Afrikaanse atmosfeer
geskep het met die kama-boerewors en die reuke van ‘n Italiaanse plaaskombuis die huis deurweek, let’s go
all the way, en ek maak toe maar ‘n bottel Bolandse voggies oop om ‘n
volledige Kaaps-Italiaanse
gemoedstoestand daar te stel. Hoe dan anders? Pinotage is mos eg
Suid-Afrikaans, gebore en getoë
in Stellenbosch, en Nederburg is ‘n Kaapse ikoon soos Paarlberg se
Taalmonument, net oor die bult vanaf die bekende wynmaker.
So terwyl die boerewors sy unieke vleis en spesery geure
laat uitsypel en saamsmelt met die roomerige tamatiesous, vat ek ‘n ruskansie
in ‘n skommelstoel op die agterstoep, staar uit oor die weiveld, nog sonder
skapies, geniet ‘n sigaret en sip aan die rooi voggies. Ek het ook ‘n draai
gaan maak in die tuin en ‘n handvol basiliekruid blare en vine ripened tamaties gaan pluk. Die wyn, 'n 2010 Nederburg Pinotage, Winemaker's Reserve, was 'n uitstekende voorbeeld van hoe 'n Pinotage moet proe en lyk. In die glas was dit diep robyn rooi met baie min purper op die rante en die neus was vol pruime en 'n bietjie eikehout. Op die palaat was dit 'n vet, sagte, mondvol vrugte sonder die kenmerkende aardse smaak wat in baie Suid-Afrikaanse wyne voorkom. Min tanniene te bespeur. Die nasmaak was lank, peperig met fluisterende gerugte van bitter swart koffie. In die algemeen 'n hoogs verfijnde wyn. Wilhelm Pienaar, die wynmaker het hom uitstekend van sy taak gekwyt.
Terug in die kombuis, kook so veel penne pasta soos benodig in soutwater tot al dente. Indien te veel van die tamatiesous weggekook is kan van die verrykte pastawater by die sous gevoeg word. Of nog rooiwyn. Take no prisoners. Ek het van beide bygevoeg. Dreineer die pasta en voeg dit by die boerewors-en-tamatie mengsel, gooi driekwart van die gekapte basiliekruid by en meng liggies.
Now for the crowning glory. Strooi ‘n laag, so ‘n opgehoopte handvol, gesnipperde Mozzarella kaas, ‘n goeie laag gerasperde Parmigiano-Reggiano kaas en nog 'n handvol gesnipperde Cheddar kaas bo oor die kosmengsel, sit die deksel terug, sit die stoof af, en vat nog ‘n ruskansie op die stoep, neem 'n foto of twee van 'n wildsbok wat nuuskierig nader staan, terwyl die kaas smelt en hul romerigheid die pasta mengsel beseën en bevrug. Koskook is mos harde werk!
Net voor opskeptyd strooi twee klein, gekapte tamaties en die laaste van die basiliekruid oor die kos as garneering.
M se kommentaar oor hierdie Boere-Italiaanse kooksel: OMG!!! Die gereg het 'n sagte robuuste smaak gehad vanwee die boerewors se skerp speserye en Siciliaanse kruie maar was tog ook romerig vanwee die topgehalte tamatiesous en handevol kaas. Definitely a keeper, as ek net boerewors in die hande kan kry.
Na 'n stukkie aarbeie kaaskoek vir nagereg het ek die naderende sonsondergang met 'n beker koffie vanaf die agterstoep gesit en besigtig. Hoogs tevrede met die resultaat van my Penne con contadino salsiccia e vino rosso e basilico, Penne met Boerewors, Pinotage rooiwyn en basiliekruid,
Na 'n stukkie aarbeie kaaskoek vir nagereg het ek die naderende sonsondergang met 'n beker koffie vanaf die agterstoep gesit en besigtig. Hoogs tevrede met die resultaat van my Penne con contadino salsiccia e vino rosso e basilico, Penne met Boerewors, Pinotage rooiwyn en basiliekruid,