Wednesday, November 26, 2014

Die Paleis van Fontainebleau: Die Tuiste van Konings




"La vraie demeure des rois, la maison des siècles"
"Die ware tuiste van konings, die huis van die eeue"
Napolean I,
Keiser van Frankryk

 
Ek was nou al in verskeie Europese koninklike residensies, forte wat omgeskakel is in koninklike paleise en wat deur die eeue verder verander is om vandag as museums te dien, landelike kastele, jaghuise van die getitelde klas en ander over-the-top speelplekke van die aristokrate, maar om een of ander rede het ek nog altyd gevoel ek het nog nie die maatstafpaleis gesien nie.

As ‘n mens dink aan classic rock and roll musiek en jouself afvra wie is of was die groot geeste dan dink ‘n mens tog nie aan one hit wonders soos Scott McKenzie, Warren Zevon of Joan Jett nie. Nee, ek glo meeste mense dink soos ek onwillekeurig aan die Rolling Stones, Bruce Springsteen, The Beatles, Elton John, Bob Dylan, ensovoorts. Kunstenaars met hul eie brand, oorspronklik  en hulle kuns het die tyd deurstaan. Kunstenaars wie se musiek ander beïnvloed het of wie se musiek heropgeneem en deur ander geknie, geskaaf en ge-polish is.


As dit kom by koninklike geboue soos kastele en veral paleise dan geld dieselfde maatstawe; Innoverende en/of skouspelagtige ontwerp en kwaliteit vakmanskap. Dit en wie daar in gewoon het dra by tot ‘n gebou se langslewendheid and legendariese status. En langslewendheid het eeu na eeu die konings van Frankryk geinspireer om ‘n kasteel om te skep in ‘n legendariese paleis, instand te hou, aan te las, gedeeltelik te herbou en totaal en al te hermeubileer na die Franse Revolusie.

Nog voor die Paleis van Louvre sy glans gekry en weer verloor het as ‘n setel van koninklike mag, nog voor die Paleis van Versailles omskep is van ‘n muskietbesmette swamp na die ultimate voorbeeld van Franse swier en invloed in Europa, het die Paleis van Fontainebleau reeds bestaan.

Miskien was die drang om dié spesifieke paleis ook te sien histories aangewakker, want direk of indirek het Fontainebleau te same met die 30-Jaar Oorlog in Europa (1618-1648) bygedra dat ek is wie ek is. Want as dit nie was vir die Edik van Fontainebleau nie (onderteken op 22 October 1685 deur Louis XIV), ook bekend as die Herroeping of Terugroeping van die Edik van Nantes, sou van my ma se voorsate (Malherbe) sekerlik nie die lang pad vanaf Normandie na Holland na Suid-Afrika “geloop” het nie. (Daar is ook ‘n baie sterk moontlikheid dat die 30-Jaar Oorlog veroorsaak het dat voorsate aan my pa se kant (Hanekom) vanaf Saxony na Holland gegaan het om werk te soek en om die nagevolge van die oorlog te ontsnap en daarna na Suid-Afrika geimigreer het. Saxony was grootliks ‘n wasteland; verniel, verbrand en op ‘n konstante basis geplunder deur rowers na nog ‘n sinnelose godsdienstige oorlog.)

Die ondertekening van die Edik van Fontainebleau deur Louis XIV in 1685.

Die Edik van Fontainebleau, wat niks anders was as ‘n amptelike en koninklike stempel van goedkeuring om ‘n meer as honderd jaar se ondergrondse vervolging en uitmoordery van Franse Protestante voort te sit, het onder andere beveel dat Hugenote (Franse Protestante) kerke vernietig moet word en Protestantse skole gesluit moet word.  

Hier is ‘n klein uittreksel vanaf die edik:

“. . . we forbid our subjects of the Reform to meet any more for the exercise of the said religion in any place or private house, under any pretext whatever . . .”

“. . . and in consequence we desire, and it is our pleasure, that all the temples of those of the said Reformers situate in our kingdom, countries, territories, and the lordships under our crown, shall be demolished without delay.”
 
[…and it is our pleasure…as of dit ‘n tipe van vermaak was!]


Donderdagoggend en die weer was heelwat warmer as wat ons die afgelope paar dae in Boergondië gehad het. Na ons die Boergondiese heuwels nagelaat het en die vervelige A6 Autoroute du Soleil (Pad van die Son) naby Montcourt-Fromonville verruil het vir ‘n landelike roete, het ons kort daarna die Fontainebleauwoud ingery. Die paleis is geleë binne ‘n enorme woud. Dit het seker soos die meeste ander Middeleeuse paleise as ‘n jaghut sy oorsponklike ontstaan gehad.  
 

Die Sentrale Toring (The Keep).

Die vroegste geskrewe wat verwys na ‘n kasteel by Fountainebleau dateer uit 1137 AD. Die Sentrale Toring dateer uit 1169 en is die enigste gedeelte (wat maklik gesien kan word) wat vandag nog oorgebly het vanaf die Middeleeuse tydperk. Toe ons daar was was die gedeelte nie oop vir die publiek nie so ek het maar ‘n foto deur ‘n indrukwekkende hek geneem.  

Die ingang na die ou oorsponklike gedeelte van die paleis.

Maar die paleis sou totaal en al verander en sommer baie uitgebrei word vanaf 1528 deur François I, die eerste Franse Renaissance koning en liefhebber van onderandere paleise bou. Ek het al voorheen oor hom en een van sy ander meesterstukke, Chambord, geskryf.  Hy was ook ‘n groot liefhebber van vroue en het eenkeer gesê: “Une cour sans femmes est comme un jardin sans fleurs” (’n Hof sonder dames is soos ‘n tuin sonder blomme.)


Die François I Gallery. Die gallery was ‘n innoverende skepping vir die tydperk en is ryklik versier deur frescoes en kunswerke met pleisterwerk rame. Een van vandag se bekendste kunswerke, Leonardo Da Vinci se Mona Lisa het 200 jaar voordat dit na die Louvre Museum verskuif is in dié gallery gehang.

 
Die Trinity Chapel wat oor ‘n tydperk van meer as 50 jaar gebou is. Dit is begin deur François I (1494-1547), voortgesit deur sy opvolger Henry II (1519-1559) en die plafon is voltooi deur Henry IV (1553-1610). Die paleis met sy 1500 plus kamers is waarlik ‘n reis deur tyd en style. Nie dat ‘n mens al die kamers kan besoek nie, maar dit is 'n enorme plek. Sekere gedeeltes van die paleis kan vrylik deur geloop word en oor gekwyl word, byvoorbeeld die Napoleon Museum, die pous se kamers, die balsaal en die François I gallery, terwyl ander gedeeltes soos die Empress’ Chinese Museum en die Diana Gallery slegs met begeleide toere besoek kan word. 

Beeldhouwerk

Plafonne en kandelare.
Die plafonne is uitsonderlik, vertrek na vertrek, en seker van die beste wat ek nog gesien het. 
 
34 Franse konings oor ‘n tydperk van 800 jaar het die Paleis van Fontainebleau op een of ander tyd deur hul bewind hul tuiste gemaak. Sommige net vir ‘n vlietende oomblik terwyl ander soos François I en Henry IV baie tyd hier gespandeer het. Napolean I het seker die meeste gedoen om die paleis te restoreer en het dit totaal gehermeubileer nadat al die meubels tydens die Franse Revolusie verwyder is.

Not your mamma’s sideboards
 
Die ikoniese foto van Fontainebleau. Op die beroemde hoefyster trappe, nadat hy so baie gedoen het om die paleis te restoureer, het Napoleon I in 1814 geabdikeer.
 
Laat middag nadat ons ‘n laaste draai gemaak het deur die Diana Tuin en die paleis kompleks verlaat het het ons vir ‘n wyle deur die dorpie van Fontainebleau gedrentel, op ‘n bankie gaan sit en ‘n roomys geniet en sommer net die ou geboue rondom ons betraag en people watching gedoen. Ag, die luilekker dae van vakansies.

 
Is die Paleis van Fontainbleau die maatstafpaleis? Die moeder van alle Franse paleise? Moeilik om te sê. Die feit dat so baie konings, argitekte en kunstenaars oor so ‘n lang tydperk bygedra het tot die paleis soos hy vandag daarna uitsien en sy groot verskeidenheid van style maak van dit 'n meer interessante paleis as Versailles. Persoonlik het ek Fontainebleau meer geniet as Versailles of Amboise of Chambord. Vanuit ‘n geskiedkundige oogpunt dink ek staan dit kop en skouers uit bo alle ander France kastele en paleise.

Chateau d’Esclimont

Ongelukkig was Fontainebleau nie ons finale bestemming vir die dag nie.  Ons het nog so ‘n uur of wat se ry oorgehad deur die goudbedekte vlaktes van die Ile-de-France area suid van Parys, oortrek van raapsaad landerye. Ons bestemming and blyplek vir die volgende twee dae was Chateau d’Esclimont,  in die klein dorpie van Bleury-Saint Symphorien.

Frescoes in die slaapkamer van die Hertogin van Etampes, François I se minnares.
 
Napoleon I se troonkamer. Dit het nog steeds al die oorpronklike meubels sedert 1804. 

2 comments:

Anonymous said...

120Ek stem met jou saam, Fontainebleau was absoluut asemrowend. Ek sou wat wou gee om weer daarheen terug te gaan. Ongelooflik mooi.

Anonymous said...

Jou boeiende skrywes en gepaardgaande foto's laat mens voel of mensself daar was. Regtig lekker om jou reisbeskrywings te lees!